EASYEQUITIES SKRYWERSFEES

’n Kapstok vir pyn en onsekerheid

Produksie: Oggendkoffie en kleindorpie-queer
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nadine Petrick

Op ’n doodgewone Vrydagoggend in Oktober gesels Chan Croeser met die TV-man en skrywer Louis Pretorius oor sy baie belangrike nuwe boek, ’n Jaar in my lewe.

Louis Pretorius en sy 12-jarige seun gaan fliek. Agter hulle sit twee jong laaities. Die een sê vir die ander een: “Ek is gay.” Die ander een antwoord: “O, okay cool.” Dan: “My ouers gaan my doodmaak.” Louis se hart ruk.

Louis Pretorius gaan help sy ouers om hulle huis op te pak. Hy vind ’n 1996-jaarbeplanner van die Hoërskool Piet Potgieter. Cowabunga. Moffie. Boudkapper. Triggers.

Louis Pretorius luister na Laurika Rauch en gaan skryf ’n boek.

Vir so lank al as wat LGBTQI+-kinders en tieners die aarde bewandel, so lank al loop daai selfde kinders en tieners rond met ’n verlammende vrees vir verwerping.

Vir so lank al as wat daar LGBTQI+-kinders en tieners die aarde bewandel, so lank al loop daai selfde kinders en tieners rond met ’n verlammende vrees vir verwerping, vir vooroordeel en spot. As jy oë en ore het, wéét jy dit. Om dan dapper genoeg te wees om jou eie verhaal van queerness in ’n klein dorpie in die 90’s te gaan neerpen sit nie in enige doodgewone man (of vrou) se broek nie.

Daar is al etlike boeke vir tieners en jong mense oor die LGBTQI+-gemeenskap geskryf. Dink maar aan Fanie Viljoen se Uit, Zelda Bezuidenhout se Toe ons oneindig was en Barrie Hough se Skilpoppe. Elkeen van hulle broodnodig, tydig en belangrik. Maar wat Louis Pretorius met ’n Jaar in my lewe regkry, is wérklik grensverskuiwend, as mens jou dan nou tot ’n cliché mág wend.

In ’n gesprek met Chan Croeser vertel die veelbekroonde TV-man en skrywer vir die oggendkoffiedrinkers by die Toyota Stellenbosch Woordfees van sy jongste boek wat pas verskyn het. En hoekom dit so broodnodig is om sekere literêre grense in tienerboeke af te breek.

“Ek skryf boeke vir tieners om te lees,” sê Pretorius, “en nié vir hulle ouers om oukei te wees daarmee nie.” Ook belangrik, sê hy, is dat die uitgewer dapper genoeg was om hom te vertrou om die storie te vertel, sónder die voorbehoude van die meeste van die boeke, soos hierbo genoem.

“Ek was ’n tiener in die 90’s” lag hy, “daar ís gevloek, gedrink en katte geknyp. En dit het nie net in die 90’s gebeur nie, dit het in die 80’s, 70’s… ag, dit het nog altyd gebeur. Ons is almal daardeur.”

Die boek skram nie weg van homoseksuele seks nie, en ook nie van fisieke en psigologiese homofobiese geweld nie. Die vloekwoorde word effe verbloem; die geweld nié – Pretorius se eie manier van rebelleer. Want kyk! Ons mag tog net nie vloek nie, maar om iemand te slaan en skel oor sy seksuele oriëntasie? Dis blykbaar oukei.

“Die vooroordele van die 90’s is dieselfde as nou. Dis sistemies en ek wou dit oopskryf. Die boek gaan ook nie uitsluitlik oor LGBTQ nie, maar ook oor buitestanderskap en die donkerte van depressie.” Dis ’n baie persoonlike reis, en dis alles dinge wat Pretorius in sy eie jong lewe in die 90’s in Potgietersrus ervaar het.

Die boek skram nie weg van homoseksuele seks nie, en ook nie van fisieke en psigologiese homofobiese geweld nie.

Martin en Liam, die hoofkarakters, is veelsydige, holistiese karakters. Hulle speel krieket, doen redenaars en toneel, en gooi diskus. Hulle woon die KKNK by (die gegewe is ’n heerlike tydsreis); hulle het struggles met skoolwerk, hulle ouers en geloof. Hulle is veel meer as net gay en biseksueel. Hulle is dit óók, maar dis nie daardie enkele aspek wat hulle definieer nie.

Wat hy uiteindelik wou regkry, is om vir al die verlore tieners van klein dorpies, maar ook alle ander sukkelende kinders – dit maak nie saak waar hulle is nie – ’n kapstok te gee waaraan hulle hulle eie pyn en onsekerhede kan hang: “Jou seksuele identiteit is maar een aspek van wie jy is. Kyk holisties na jouself en die wêreld, en besef dat almal nie van jou hoef te hou nie. Moenie net fokus op jou pyn nie. Staan op, maak vrede. Léwe.”

Facebook
Twitter
LinkedIn