VISUELE KUNS

‘Die natuur gee my alles wat ek nodig het’

Ateljeebesoeke: Strijdom van der Merwe
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Ilza Roggeband

As deel van vanjaar se Ateljeebesoeke-program het die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe vir die eerste keer sy huis in Stellenbosch oopgestel om feesgangers meer oor sy kuns te vertel.

Hy is van ’n plaas in Meyerton en het kuns aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer waar hy ná sy studies as grafiese ontwerper gewerk het. Op ’n dag het Strijdom van der Merwe, nou ’n wêreldbekende landskapkunstenaar, gesien hoe werkers ’n gat in die pad grawe terwyl groot eikebome oor hulle gewaak het.

“Ek het net daar besef ek kan nie vir die res van my lewe in ’n kantoor werk nie,” het hy tydens die ateljeebesoek vertel. Hy het bedank en verder in Nederland, Tseggië en Engeland gaan studeer. In 1996 het hy as voltydse kunstenaar begin werk. Sedertdien het sy werk nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal aandag getrek.

Hy het vertel van die bome wat hy in 2008 in Stellenbosch in rooi materiaal toegedraai het, hoe hy ’n diamantmyn van De Beers by Hondeklipbaai omskep het in ’n lewende kunswerk, en hoe hy vir ’n boer van die Vrystaat, Nellis Nel van Dealesville, ’n enorme stuk landskapkuns geskep het deur ou motorbande te gebruik.

As ’n laatlamboetie op die plaas het hy kleintyd al besef die natuur het alles wat jy nodig het om mee te skep. “Jy kan met dit teken, skilder of bou,” sê hy. “Die belangrikste is om nie jou ego op die landskap af te druk nie.”

Onlangs is Strijdom deur die Switserse sportdragvervaardiger On gekontak om op een van hulle advertensies te werk. Dit het ses maande geneem, maar Strijdom is uiteindelik op ’n vliegtuig na Tenerife, die grootste van die Spaanse Kanariese eilande, om aan die advertensie te werk. “Daar is 2 500 vulkaniese klippe gebruik om ’n sirkel van 80 meter te bou,” vertel hy. “Dit was drie trokke vol klippe en ná drie dae se werk is ’n span van sowat 40 mense van oor die hele wêreld – onder andere ’n fotograaf uit New York, ontwerpers uit Switserland en atlete van oraloor – ingevlieg. Die advertensie, wat net 38 sekondes lank is, is oor een dag verfilm.”

Een van die interessante kinkels in die storie is dat On by Strijdom wou weet watter skoene hy dra aangesien hulle agter-die-skerms skote wou neem. Strijdom se Hi-Tecs was nie aanvaarbaar nie, maar sy nuwe paar vellies wel!

Besoek Strijdom se webblad.

Kyk die On-advertensie hier. 

Facebook
Twitter
LinkedIn