TOYOTA MUSIEKFEES
Al gee julle ons net Stellenbosch
Produksie: Spoegwolf
Deur: Maliza Adendorff
Foto’s: Maliza Adendorff
Ek het op skool kennis gemaak met Spoegwolf en “Lenie Blou” en hulle sedertdien al ’n paar keer gesien. Die laaste keer was saam met my beste vriendin, en ons het in die vrouebadkamer van The Daisy Jones vir mekaar gesê die hele affêre voel soos ’n out-of-body experience, skryf Maliza Adendorff ná hulle buitelugkonsert in die Jan Marais-natuurreservaat.
Die plek is volgepak lank voor Van Der Aven of Spoegwolf hulle verskyning maak. Daar’s rye voor die biertente. Studente kuier op die sypaadjies buite die Jan Marais-natuurreservaat en op die balkonne van woonstelle langs Maraisstraat.
Om ’n Spoegwolf-optrede te probeer “resenseer”, is gelyk maklik en moeilik: Jy weet soortvan wat om te verwag, maar jy weet ook glad nie, want daar is altyd iets interessants wat gebeur.
Van Der Aven, ’n alternatiewe Afrikaanse rockgroep, open vir Spoegwolf. Hulle musiek is eerlik en vry van pretensies. Hulle sing dit soos dit is, en sê hulle sê in Afrikaans en Engels. Dis nie die eerste keer dat hulle met Spoegwolf ’n verhoog deel nie en hulle het saamgewerk op die enkelsnit “My huis”, wat onlangs ook akoesties in die Stellenbosch Moederkerk opgeneem is. Roelof van der Merwe en Danie du Toit vorm hier ’n gedugte span met harmonieë wat gemaklik bymekaar sit.
Ou treffers soos “Geel”, “Lenie Blou” en “Somerset Wes” van hulle vroegste albums is luidkeels saamgesing deur die gehoor – ’n bewys van die groep se tydloosheid binne die Afrikaanse musieklandskap.
Spoegwolf het toevallig dieselfde dag as hulle show een van die songs op hulle nuwe album op YouTube vrygestel. Die lirieke lui: “Het jy my geglo toe ek belowe het, ek sal jou die wêreld gee?” Danie, ons sal eintlik enigiets glo wat jy sê, selfs al gee jy ons nét Stellenbosch. Hierdie is musiek waarmee jy nie nét grootword nie. Dis musiek waarmee saam jy mens word.
Die konsert het op 8 Oktober plaasgevind.





