TOYOTA MUSIEKFEES

Drie geslagte Zoid

Produksie: Zoid: Spawn
Deur: Duné van Jaarsveld
Foto’s: Duné van Jaarsveld

Karen Zoid se liedjies, haar seun, Ben, se voortreflike visuele landskappe en Anton Eloff se meesleurende klavierspel werk saam om jou op reis te neem deur ’n metaforiese landskap waar almal saamspeel, skryf Duné van Jaarsveld.

Het jy al ooit gewonder hoe dit voel om in Karen Zoid se sitkamer te sit terwyl sy uit die heup uit stories oor haar kinderdae vertel en sommer ook ’n paar tunes speel? Dis wat in Zoid: Spawn gebeur – en hierdie keer speel, gesels en sing haar seun en pa saam. Die konsert ontvou as ’n eerlike blik op haar familielewe en wat dit beteken om te “respawn” en die “game of life” te speel.

Die konsert vloei gemaklik van een liedjie na die volgende soos ’n gesprek tussen ou vriende. Stories en grappies oor haar kinderdae word gebruik om die agtergrond vir elke liedjie te skets. Zoid nooi jou in haar huis in, jy sit op haar bank en kuier saam met haar talentvolle familie.

Haar seun, Ben Francis, is die vervaardiger van die konsert. Sy eerste. Hy is ook die Picasso agter die videokuns wat die show terselfdertyd soos ’n video game laat voel. Ben is 19 jaar oud, maar reeds ver gevorder wat sy veelsydige kuns- en musiekvaardighede betref. Dit klink bekend, of hoe? Die appel val nie ver van die boom nie.

Die konsert vloei gemaklik van een liedjie na die volgende soos ’n gesprek tussen ou vriende. Stories en grappies oor haar kinderdae word gebruik om die agtergrond vir elke liedjie te skets. Zoid nooi jou in haar huis in, jy sit op haar bank en kuier saam met haar talentvolle familie.

Zoid se pa, die ouddiplomaat en sakeman Rhynie Greef, het ook ’n verskyning gemaak. Op 77 tokkel hy die elektriese guitar. Hoe gryser, hoe wyser maar ook hoe cooler. Hy het respawn as ’n rockstar! Dit was sy eerste vertoning in ’n band, en dit nog met sy dogter en kleinseun!

Anton Eloff (klavier) en Vinnie Enrico (dromme) het die perfekte ritmiese anker gebied. Zoid se sang was spontaan en onvoorspelbaar, maar beide Eloff en Enrico het haar stem goed ondersteun. ’n Mens kan sien hulle verstaan mekaar en het ’n sterk aanvoeling vir waarheen elke liedjie op pad was. Die trio het ’n warm tango gedans met passie en koördinasie.

Zoid se bekende liedjies is verwerk tot unieke, speelse, ondersoekende weergawes wat stilsit op jou plastiekstoel onmoontlik gemaak het. Die musiek was roerend. In kombinasie met die beligting en Ben se kuns het dit die oë en die ore gestreel. Jy kon nie wegkyk nie, want jy sou iets belangriks, snaaks of moois mis.

Die enigste vertoning was op 5 Oktober.

Facebook
Twitter
LinkedIn