SPIER TONEEL

Hamlet soek sy storie op die Vlakte

Produksie: I Lord Hamlet
Deur: Willem Bester
Foto’s: Jeremeo Le Cordeur

As skrywer en akteur verplaas die talentvolle Carlo Daniels Hamlet na die Kaapse Vlakte, met grepe uit Shakespeare se oorspronklike Engelse teks wat vermeng word met nuwe verwerkings van die tonele en Afrikaanse vertalings. Vir Willem Bester voel I Lord Hamlet in sy huidige vorm egter gevaarlik baie soos “hoogtepunte uit Hamlet”, sonder die narratiewe ontwikkeling wat nodig is om simpatie en ware begrip te bewerkstellig vir wat Daniels probeer sê.

Hamlet is legendaries. Vir ’n verhoogakteur is dit die Everest van rolle. As bron bied Shakespeare se teks ook ryke stof. In I Lord Hamlet takel Carlo Daniels dié bul by die horings as akteur én skrywer: Hamlet word verplaas na die Kaapse Vlakte. Maar met net twee mense op die verhoog – Daniels en die musikant Jannous Aukema – is dit nie ’n gewone bywerking nie. Grepe uit die oorspronklike Engelse teks word vermeng met nuwe verwerkings van die tonele en Afrikaanse vertalings.

Op die oppervlak herbedink Daniels Hamlet as ’n pasiënt in ’n inrigting, in gesprek met sy terapeut, onder andere, oor die trauma wat hy ervaar ná sy vader se afsterwe. Ophelia is ’n medepasiënt en Polonius word een van daardie glibberig bose “ek is nie ’n rassis nie, maar ‘hulle’ is anders”-tipes wat praat met ’n sosiopatiese skyn van redelikheid. ’n Bruin kêrel vir sy dogter is beslis nie deel van sy wêreldbeeld nie. Dieper is daar dus ’n konfrontasie met rassisme en die nalatenskap van apartheid en kolonialisme.

Enige verwerking behels om die bronteks tot ’n mate te martel totdat dit bely. Die probleem is dat met genoegsame marteling die teks enigiets sal bely. ’n Mens het die idee gekry dat dít ongelukkig die geval is met I Lord Hamlet. Dit is nie dat die konsep glad nie werk nie: Hamlet se ontwykings en getalm, die dualiteite in sy aksies en gedagtes, die algemene sin van vervreemding en ontheming… dié alles is ’n goeie fondament vir dít wat Daniels wil ondersoek in ’n soort psigodrama oor die historiese en hedendaagse marginalisering van die bruin gemeenskap.

Die fragmentariese aard van die aanbieding sit egter dwars hiermee. In sy huidige vorm het dit gevaarlik baie soos “hoogtepunte uit Hamlet” gevoel, sonder die narratiewe ontwikkeling wat nodig is om simpatie en ware begrip te bewerkstellig vir wat Daniels probeer sê. Dit is ironies om so te dink, maar ’n mens het dit ervaar asof dié Hamlet-karakterisering intensie gekort het. Die stuk het aansienlik langer geloop as wat geadverteer is, en dit is nooit ’n goeie teken as die gehoor in hulle stoele begin rondskuif nie.

Die “verhoogbesigheid” het ook nie altyd sin gemaak nie: Waarom bak Hamlet ’n eier, en beteken die krabbels op die transparante enigiets? Versinnebeeld dit sy stryd en identiteitskrisis? Hoewel daar geïnspireerde elemente in die stelontwerp en rekwisiete was – byvoorbeeld lig deur water geprojekteer wanneer Ophelia se dood ter sprake is – het die geheelbeeld ietwat ondeurdag voorgekom.

Daniels is egter ’n talentvolle en bedrewe akteur, ewe formidabel in sy deklamering en fisieke spel. Wanneer hy van karakter verwissel, gebeur dit in ’n hand-omdraai – met ’n gebaar, ’n liggaamshouding, ’n aksent, ’n infleksie in die stem. Aukema se musiek het deurgaans vir ’n gepas onrustige ondertoon gesorg.

Daniels se akteursvernuf is uiteindelik nie genoeg om heeltemal vir die ander kwessies te vergoed nie. Die hoop is dat verdere aandag aan die dramaturgie die produksie sterker kan maak. Met inbegrip van plaaslike historiese en kulturele materiaal sal dit dan heel moontlik ’n boeiende, onmisbare teaterervaring kan wees.

I Lord Hamlet
11 OKT 13:30
HMS Bloemhof-skoolsaal
R240 | R270 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn