VISUELE KUNS
’n Pleidooi vir die herwaardering van Maggie Laubser
Deur: Tiaan Booyens
Foto’s: Tiaan Booyens
Die kunskurator, joernalis en skrywer Amanda Botha het by ’n praatjie in die Stadsaal oor die tentoonstelling Maggie Laubser op 140 gepleit vir ’n regstelling van die geskiedenis wat dié besonderse kunstenaar weghou van die eer wat haar toekom, skryf Tiaan Booyens.
“Dit is die vraag wat ek vandag wil stel: Is dit nie tyd nie vir ’n behoorlike regstelling van die geskiedenis wat ’n besonderse kunstenaar met internasionale aanhang weghou van die eer wat haar toekom, ook wat betref die manier waarop sy gewaardeer word in terme van rand en sent – en dít deur jaloesie van die tyd, deur onkunde van die tyd.”
Die kunskurator en joernalis Amanda Botha, wat al verskeie biografieë oor kunspersoonlikhede geskryf het, skilder ’n beeld van die lewe en nalatenskap van Maggie Laubser, ’n skaam, inkennige kunstenaar wat gehelp het om die ekspressionisme in Suid-Afrika bekend te stel.
Nadat Laubser in 1946 ’n erepenning vir kuns van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang het, ontmoet sy die kunshandelaar wat later haar sake sou bestuur. Dr. Helmut Silberberg, wat eerstehands kennis van die Duitse ekspressionisme-beweging gedra het, het haar werk ondersteun soos geen ander nie. Skinderstories en “kwaadwillige verdraaing van die waarheid” het die Duits-Joodse Silberberg se bydrae tot haar kunsloopbaan na die kantlyn geskuif.
Toe Botha ná haar studies in 1968 by dr. Silberberg se deur aanklop om iets van die kuns te leer, ontmoet sy vir Laubser. Botha leer toe dat Laubser weens haar swak gesondheid nie meer self haar kuns kon bestuur nie. Dr. Silberberg se ingryping was haar “redding”, vertel Botha tydens ’n vermaaklike oomblik in die Stadsaal.
Hierdie verborge stories oor Laubser lê Botha al jare lank na aan die hart aangesien sy moontlik die laaste persoon is wat die verhale aan die lig kan bring.
Laubser het ongeveer 140 kunswerke aan die Universiteit Stellenbosch bemaak. Dit is een van die grootste versamelings van haar werk in openbare besit en word tot einde Januarie in die Universiteitsmuseum ten toon gestel.
Foto: van links is Frank Kilbourn, voorsitter van Strauss & Co, Caro Wiese, direkteur van Strauss & Co, Amanda Botha, en Roger Silberberg, seun van wyle dr. Helmut Silberberg.




