Nuwe Rudolf Gouws-prys laat klassieke klanke reis

Die Toyota Stellenbosch Woordfees se eerste jaarlikse Rudolf Gouws-prys vir ’n reisvaardige klassieke musiekproduksie is onlangs by die 2026 Woordtrofees toegeken. Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) se tjello-ensemble is vereer vir hulle konsert Cellissimo by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees in Oktober.

Die KFO is gewaarborg om die vertoning aan te bied by ten minste vier van die ses kunstefeeste wat deel van die Feesteforum uitmaak. Die KKNK, Suidoosterfees, Vrystaat Kunstefees en Aardklop het reeds onderneem om Cellissimo by hulle programme vir 2027 in te sluit. Die prys dra alle risiko’s en reiskoste, en die wenner se vergoeding is gewaarborg.

Peter Martens, leier van die KFO-tjello-ensemble. FOTO: Nanette Evenhuis

Peter Martens, leier van die KFO se tjello-ensemble, sê die prys lê hom na aan die hart. “Baie uitvoerende musikante in Stellenbosch het Rudolf as ’n besonders vrygewige en ondersteunende man geken. Hy was baie lief vir musiek en kon in enige gegewe week by verskeie konserte gesien word,” vertel Martens.

Martens verduidelik dat hoewel die ensemble al wyd in en om Kaapstad en Stellenbosch opgetree het, is dit logistiek en finansieel uitdagend om verder te reis met ses tjelliste en ses tjello’s, en het die groep dus nog baie min in die res van die land opgetree.

“Hierdie prys is in wese ’n toer-skenking wat ons in staat stel om ons vlerke te sprei en aanstaande jaar by ander feeste in Suid-Afrika op te tree. Ek sien uit om Rudolf tydens ons toerkonserte te vereer deur van sy gunstelingmusiek te speel, en sodoende die vreugde van hierdie unieke ensemble na ’n wyer gehoor te bring,” sê Martens.

Musikante kan voorts aansoek doen vir die prys as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees se proses vir programinskrywings, en sal ’n paneel van kundiges die wenner bepaal.

Rudolf Gouws

Die Rudolf Gouws-prys word toegeken ter ere van die ekonoom en filantroop Rudolf Gouws, wat vir byna tien jaar voorsitter van die Toyota Stellenbosch Woordfees was.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, sê “Rudolf was ’n ware weldoener en ’n passievolle ondersteuner van die kunste en kunstenaars, nie net by die Toyota Stellenbosch Woordfees nie, maar ook by die KKNK, die Suidoosterfees en Aardklop. Die Toyota Stellenbosch Woordfees ken die prys jaarliks toe met die ondersteuning van Rudolf se familie en die Feesteforum. Die doel daarvan is om nuwe gehore vir klassieke musiek te bou en om klassieke musiek op elke feesplatform teenwoordig te maak.”

Sonia Gouws sê die familie se beweegrede agter hulle ondersteuning van die prys is ’n viering van haar oorlede man se nalatenskap as liefhebber van en weldoener vir klassieke musiek. “Op die oomblik is dit net die Toyota Stellenbosch Woordfees en Aardklop wat klassieke musiek saam met die toneelstukke en ander vertonings aanbied. Die KKNK het wel ’n aparte klassieke musiekfees later in die jaar, naamlik Klein Karoo Klassique. Maar nou kan Cellissimo ook tydens die groot KKNK vertoon word, asook by die Suidoosterfees en ander feeste. Die doel is om ’n liefde vir klassieke musiek onder feesgangers landwyd te kweek,” sê Sonia.

Vir die dagboek

Porgraminskrywings vir 2027 se Toyota Stellenbosch Woordfees-program, en dus ook die Rudolf Gouws-prys, open einde November 2026. Hou die fees se webwerf, sosiale media en nuusbrief dop vir aankondigings.

Facebook
Twitter
LinkedIn