… Lynthia Julius vir haar storie “Plat lê soos ‘n Minora blade”. Julius is as algehele wenner aangekondig by die bekendstelling van die sewende US Woordfeeskortverhaalbundel in die Hofmeyr-saal in Stellenbosch op 10 Oktober. Sy wen R30 000 geborg deur Du Toitskloof Wyne. Elke ander skrywer wat in dié bundel opgeneem word, het prysgeld van R5 000 ontvang. (Klik hier om te sien wie die ander 22 kortverhaalskrywers is wat vanjaar se bundel gehaal het.)
“Uit 366 verhale word daar net één wenner gekies, en vanjaar s’n is van die oorspronklikste wat ek al gelees het. Dis as ‘t ware ‘n Nagmaal wat plaasvind, maar op ‘n heel anderster manier. Lynthia slaag daarin om uiteenlopende temas saam te voeg in ‘n styl wat wissel van humor tot patos,” sê Suzette Kotzé-Myburgh, wat sedert 2016 die sameroeper van die beoordelaarspaneel is.
Die ander twee beoordelaars was Valda Jansen en Marius Swart.
Oor die betekenis van hierdie erkenning het Lynthia Julius gesê: “Toe ek klein was het ek altyd vir die kinders gesê: ‘Vat my handtekenning, van dit gaan eendag baie werd wees.’ Ek het my handtekenning op bome, hulle arms en in hulle boeke gemaak en niemand het my kop toe gevat nie. Toe ek by die bekendstelling gevra word om die boeke vir die argief te teken het ek aan die 7-jarige Lynthia gedink en sy het gesmile. Die kompetisie het haar weer ‘n platform gegee om haar handtekenning te kan maak, want daar is mense wat dink dis iets werd.”
Die 2022 Woordfeeskortverhaalbundel, Wild, is gedurende die fees by Die Boektent in Ryneveldstraat te koop.