SPIER TONEEL

Die wip van grootword

Produksie: Crybaby
Deur: Steyn du Toit
Foto’s: Llewellyn de Wet, Jeremeo Le Cordeur, Hans van der Veen

Wanneer het jy jou onskuld verloor? Dit is moeilik om jou Crybaby, Carla Smith se debuut as teksskepper en regisseur, voor te stel sonder Frank Opperman wat ’n ontnugterde vierjarige in ’n 65 jaar oue liggaam speel. Omdat sy karakter relatief min dialoog het, kry ons die kans om ’n meer weerlose weergawe van hierdie buitegewone akteur te sien, skryf Steyn du Toit.

In een van die openingstonele van Orson Welles se briljante rolprent Citizen Kane ontmoet ons ’n seuntjie wat met sy slee in die sneeu speel. Sy ouers is besig om ’n kontrak in die huis te onderteken. Hy weet dit nog nie, maar binne ’n paar oomblikke gaan hy sy kinderlike onskuld en bewondering vir die lewe permanent verloor. Vir die res van sy lewe gaan hy alles in sy vermoë doen om daardie oomblik weer te probeer vind.

Ons almal ken dié proses goed. Dit begin met klein oomblikke. Jy ontvang ’n geskenk van ’n Kersvader wat verdag baie soos jou een oom lyk. Later vind jy die rooi-en-wit pak oor ’n stoel op die agterstoep gegooi. ’n Paar jaar later slaap jy by ’n maatjie oor. Julle kyk lekker WWE tot sy pa laggend die volgende oggend vertel: “Wrestling is fake”. Jy sal nooit weer ’n geveg tussen Stone Cold en The Undertaker kan kyk sonder om te sien hulle slaan mekaar nie regtig nie. Van daar af is dit die een ontnugtering na die ander, jaar in en jaar uit.

As volwassenes het ons elkeen ons eie reeks ontnugteringe agter ons. Ons bestee gevolglik ’n groot deel van ons lewe daaraan om te probeer terugkeer na daardie plek van onskuld. Terselfdertyd eksperimenteer ons met maniere om te onsnap van die trauma van grootmens wees.

As volwassenes het ons elkeen ons eie reeks ontnugteringe agter ons. Ons bestee gevolglik ’n groot deel van ons lewe daaraan om te probeer terugkeer na daardie plek van onskuld. Terselfdertyd eksperimenteer ons met maniere om te onsnap van die trauma van grootmens wees. Party van ons drink, ander gaan gym toe. Die res draai na die naaste kerk, sielkundige, yoga studio, spiritual retreat, nagklub, apteek, dwelmhandelaar of ’n ander mens se liggaam.

In die geval van die vierjarige Samuel (Frank Opperman) se dagsorgjuffrou sien ons een van die meer moderne maniere van ontvlugting: doomscrolling. Met haar “oggendbroodjie” in die een hand en haar foon in die ander sit en blaai sy van die een TikTok-dansgier tot die volgende idiotiese plataarde-video op YouTube. Sy kyk foto’s van Gaza wat verwoes is op Twitter en lewer dan kommentaar op Facebook onder ’n video van Lizandrie wat gisteraand op Boer soek ’n vrou huis toe gestuur is. 

Juffrou besef egter nie Samuel staan agter haar en kyk nie. Dit is in hierdie oomblik dat hy sy eie Citizen Kane-oomblik beleef. Die ontnugtering daarvan is so oorweldigend en swaar vir sy klein skouertjies dat hy ’n onmiddellike metamorfose ervaar. Eensklaps is hy fisiek ses dekades ouer aan die buitekant, maar die vierjarige Samuel sit steeds in die 65 jaar oue liggaam.

Dit is moeilik om dié stuk te verbeel sonder Opperman, en die keuse van ’n ouer akteur wat ’n jonger een speel voel reg. Dit sou nie andersom werk nie – jy het daai lewenservaring, erns en deernis nodig wat Opperman tot die rol byvoeg. Omdat sy karakter relatief min dialoog het, kry ons die kans om ’n meer ingeperkte en weerlose weergawe van hierdie buitegewone akteur te sien. Hy laat jou lag terwyl hy kaalvoet op ’n Checkers-fietsie in ’n rugbybroekie en T-hempie ry. Sekondes later huil jy weer snot en trane wanneer hy as ’n gebroke vierjarige vir jou probeer vertel hoekom dit so seer is in hom.

Carla Smith se teks en regie is vars en vol Paaseiertjies vir beide ouer en jonger gehore. By die vertoning wat ek bygewoon het, was die helfte van die gehoor leerders, en hulle reaksie was deel van wat hierdie ervaring so spesiaal gemaak het. Dié van ons wat oud (en vinnig) genoeg is, kan ook lekker snorklag vir die klein stekies wat skuil tussen al die skynbare skoon woorde op die verhoog. Crybaby is ’n toneelstuk wat gereeld vir die kyker knipoog.

Net soos met Opperman is dit moeilik om aan hierdie produksie te dink sonder die teenwoordigheid van Nicole Holm. Saam met Wian Taljaard, René Cloete en Gantane Kusch speel sy ’n hele paar oordrewe karakters gedurende die ongeveer 80 minute. Elkeen is uiters kleurvol en ten volle ontwikkel. Ek het destyds al met Jan en Jorie my hart op haar as aktrise verloor en van daar af het ek nog net waarde vir my geld ontvang.

Dit is moeilik om dié stuk te verbeel sonder Opperman, en die keuse van ’n ouer akteur wat ’n jonger een speel, voel reg. Dit sou nie andersom werk nie – jy het daai lewenservaring, erns en deernis nodig wat Opperman byvoeg tot die rol.

’n Verdere aspek wat van Crybaby ’n sukses maak, is Wolf Britz se ontwerp. Dit vang ’n mens amper onkant aan die begin. Kyk ons na ’n sitkom? Of ’n skoolopvoering? Omhels die ondervinding, en jy sal gou die slim strategie agter die kartondeure, afgerolde geverfde lappe in die agtergrond, en kostuums uit verskillende eras begin uitpluis.

Net soos die rolprente en musiekvideo’s van regisseurs soos Spike Jonze en Michel Gondry kry Britz hier iets reg wat radikaal eenvoudiger is as wat die meeste mense van ’n toneelstuk sou verwag. Selfs die beskikbare speelruimte voel kleiner. Daar is dus min plek vir die spelers om “weg te kruip” op die verhoog. Die spasie voel kwesbaar en intiem – selfs gedurende tonele wat meer oordrewe is. Die resultaat is ’n ervaring waar emosie amper tasbaar raak.

Crybaby eindig nie soseer met ’n antwoord vir wat als op die verhoog gebeur nie, en ook nie wat daarna met die karakters gebeur nie. Die kyker vind wel vir Samuel op ’n beter plek. Ons en die leerders in die gehoor staan op en klap bemoedigend vir hom hande. Hulle het self nog baie van sy eie Kersvaderpakke oor stoepstoele en “wrestling is fake”-oomblikke wat voorlê. Dalk sal hulle eendag, ná die soveelste ontnugtering, aan Samuel terugdink. Crybaby belowe hulle nie dat grootword makliker gaan wees nie – net dat daar altyd ’n pad terug is.

Crybaby
9 OKT 15:00 | 10 OKT 16:30 & 19:30 | 11 OKT 10:00
Open Window Campus
Let op die ekstra vertoning op 10 Oktober om 16:30.

Facebook
Twitter
LinkedIn