EASYEQUITIES SKRYWERSFEES

‘Poësie is gratis terapie’

Onderhoud: Om die onsêbare te sê
Deur: Duné van Jaarsveld
Foto’s: Duné van Jaarsveld

As Herman Wasserman en Tom Dreyer met ’n glas wyn in die hand op die verhoog plaasneem, kan jy maar jou lyf vetsmeer vir filosofiese kattekwaad. Duné van Jaarsveld het haar ore gaan uitleen.

Hoekom skryf ’n mens poësie in ’n land wat brand? ’n Mens kan dié vraag ’n honderd keer kou, uitspoeg en herkou. Veral in ’n land waar die joernalistiek harder werk aan regverdigheid en outentisiteit as die land se politieke figure en regering. 

’n Opvolgvraag was: “Moet digters eerder hulle talente aanwend vir iets meer toereikends?”

Herman wonder hardop of poësie nie juis help deur nie aktief te help nie. Ek dink hoewel poësie dalk nie lewens direk verander nie, dra dit tog by tot ’n gesonder samelewing.
Die skryf van poësie is soos meditasie. Dit is ’n stadige bewuswording van dít wat rondom jou en in jou aangaan. Net soos meditasie dien poësie as ’n soort leegmaking van jouself.

Poësie word ook beskou as ’n spreekbuis, ’n medium waardeur ’n mens die dinge kan kommunikeer waaroor jy nie kan praat nie. ’n Manier om die onsêbare te sê, verduidelik Tom.

In Suid-Afrika is daar baie dinge waaroor ons sukkel om te praat. Deur dié dinge met woordkuns te kommunikeer kan die ongemaklikheid wat ’n individu rondom sekere onderwerpe beleef, moontlik stelselmatig verlig word of self verdwyn.

As meer mense net lank genoeg kon stilsit om bewus te word van hulle gedagtes en te skryf wat hulle beleef en raaksien, sou Suid-Afrika ’n rustiger en gesonder plek wees.

Saam filosofeer Herman en Tom oor poësie as “’n onbekostigbare luuksheid”. En ja, dit mag dalk wees, maar dit bly steeds goedkoper om te dig as om elke week op ’n sielkundige se bank te gaan lê.

Dit moet seker waar wees aangesien albei dié fantastiese digters ’n normale werk het in die dag. Ons brein speel met woorde en skep woordkuns terwyl die vervelige werksdag ons lywe laat sloer. Digters kan hulle talente gebruik om ons land wat brand te help en terselfdertyd meditatiewe digkuns skryf om hulself te help.

Facebook
Twitter
LinkedIn