Reinet Nagtegaal-teksprys 2026: Wenners bekend

Die wenner van die gesogte Reinet Nagtegaal-teksprys vir 2026 is die joernalis en bekroonde skrywer Rachelle Greeff

Die tweede en derde plekke is onderskeidelik die bekroonde skrywer en radiodramaturg Lee Doubell (oor en oor) en laasjaar se tekspryswenner, Dianne Du Toit Albertze (’n Kraai song). 

Die Reinet Nagtegaal-teksprys is die grootste teksskryfkompetisie in Suid-Afrika. Vir haar wenteks, Grootmeisie, ontvang Greeff prysgeld van R120 000, mentorskap en ondersteuning met finale afronding van die teks, asook die moontlikheid van ’n speelvak by die Toyota Stellenbosch Woordfees in 2026 of 2027. Die twee naaswenners ontvang onderskeidelik R60 000 en R30 000. Altesaam 66 inskrywings is vanjaar ontvang. 

Greef, ’n voormalige wenner van die Nagtegaal-teksprys (Die naaimasjien), het beïndruk met “ ’n selfversekerde begrip van hoe om ’n wêreld op die verhoog te bou en te handhaaf deur die spesifisiteit van menslike verhoudings”, sê Deon Opperman van die beoordelaarspaneel.

“Sowel die inskrywings en die beoordelaars se evaluerings was uiteenlopend. Oor die algemeen was dit verblydend om soveel tekste van gehalte te ontvang, met besonder diverse temas en style. Sommige was baie tradisioneel, jy kan maar sê in ’n klassieke styl. Ander was gewaagd, selfs eksperimenteel,” sê die skrywer en beoordelaar Tertius Kapp. Ander lede van die beoordelingspaneel was Jason Jacobs, prof. Marisa Keuris en Jolyn Phillips. 

Volgens Opperman is dit die gehalte van die dialoog wat die groep wenners gesamentlik onderskei – “gevorm deur karakter en konteks, nooit van buite af opgelê nie. Al drie werk met die teksture van die hedendaagse Suid-Afrikaanse lewe sonder om daardie lewe tot polemiek of sentiment te reduseer, wat miskien die moeilikste dissipline is vir ’n toneelskrywer om te bemeester”. 

Grootmeisie verken die verhouding tussen Daneel Merwe en Maximilian Grootboom wat, op die oog af, na onwaarskynlike vriende lyk. Dis ’n deurleefde vriendskap, van toe Maximilian nog in Daneel se wiskundeklas gesit het. Hy is ’n jong bruin akteur; sy ’n middeljarige onderwyser. Tog is hulle nader aan mekaar as familie of minnaars. Hulle breek mekaar se skanse laggend, soms in trane, af. Maar altyd met deernis.

“ ’n Pasella uit die bloute van ons herfshemel,” sê Greeff oor haar prestasie met die Reinet Nagtegaal-teksprys. 

“Die gewers van so ’n prys gee teatermakers meer as net botter op brood. Veral weet hulle ’n taal sonder teater is net ’n stottering terwyl die son sak. Bravo vir die Nagtegaals en almal wat ons met woord én daad ondersteun.”

Dit weerklink die motivering agter Dirk Nagtegaal, mede-stigter van die teksprys, se ondersteuning van die inisiatief. 

“Die motivering was nog altyd om geleenthede te skep en die vertoning van gehalteteater na die kunstebedryf te bring. Ons wil ons bydrae lewer om die bedryf gesond te hou,” sê Dirk. 

Enige besonderhede rondom die moontlike ontwikkeling van Grootmeisie vir die teaterverhoog sal met die bekendstelling van die Toyota Stellenbosch Woordfees-program in Junie vanjaar gekommunikeer word. Die 26ste Toyota Stellenbosch Woordfees vind van 3 tot 11 Oktober plaas.

Facebook
Twitter
LinkedIn