Dae van digters

Digters is skrywers, maar ’n spesiale soort. Van ’n dag gevul met poësie tot die feesdigter, kom gerus digterby!

Tom Dreyer se tydsberekening is perfek: nie net is hy die amptelike feesdigter nie, hy is ook onlangs met die Hertzogprys bekroon vir sy debuutbundel Nou in infrarooi.

“Dis egter sy nuwe bundel, Brief op veertigduisend voet, waarvan die titel so mooi oorvleuel het met ons feestema, ‘Dis hoog tyd’, wat hom die ooglopende keuse gemaak het!” sê ’n opgewonde Bibi Slippers, mededigter en samesteller van die EasyEquities Skrywersfees.

“As feesdigter is hy daagliks by aktiwiteite betrokke wat digkuns toeganklik wil maak vir alle feesgang­ers – boekpraatjies, filosofiese geselse en verskeie voorlesings.”

Wees ook op die uitkyk vir sy woorde op papiervliegtuigies, plakkate en allerhande geheime plekkies by die fees.

“Die sukses van ons eerste Dag van Poësie verlede jaar het ons aangespoor om dit weer te doen. Vanjaar huldig ons die digter Lina Spies, hou konsert saam met ons feesdigter en al sy vriende, en daar is voorlesings uit en gesprekke oor 10 digbundels, asook vars nuwe verse uit die penne van ’n groot verskeidenheid digters.”

’n Baie spesiale gebeurtenis is Pote en poëte, waar jy een van die Dierewelsynsvereniging Stellenbosch (AWSS) se vierpotiges op ’n stappie kan neem. En wyl hy/sy aan ’n bossie snuffel, word gedigte oor honde voorgelees. Selfs al kan die brakkie jou nie aanneem nie, het jy die vreugde van ’n paar uur in uithaler-geselskap.

  • Lina Spies: ’n Huldiging | Sondag 4 Okt. 10:00 | EasyEquities Skrywerskamer
  • Tom Dreyer: feesdigter en vriende | Sondag 4 Okt. 19:00 | EasyEquities Skrywerskamer
  • Brief op 25 voet | Woensdag 7 Okt. 12:00 | Erfurthuis
  • Oggendkoffie met Tom Dreyer | Dinsdag 6 Okt. 09:00 | Die Khaya-kafee
  • Pote en poëte | Maandag 5 Okt. 09:00 | Ontmoet by Die Khaya-kafee

Die Toyota Stellenbosch Woordfees vind van 3 tot 11 Oktober 2026 plaas. Kaartjies is by Quicket te koop. Klik hier vir die program.

Facebook
Twitter
LinkedIn