FILMFEES
Musieklegende se flieks in die kollig op Filmfees
Produksie: Showcase: Lloyd Ross
Deur: Theunis Engelbrecht
Foto’s: Verskaf
Nie almal sal sommer so uit die vuis vir jou kan sê wie Lloyd Ross is nie. Maar eintlik ken jy hom. As jy weet wie Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band is, of name soos Vusi Mahlasela, Jennifer Ferguson, Vyfster, Rian Malan en Shifty Records herken, is jy op die regte spoor. Lloyd het benewens ’n groot bydrae op die plaaslike musiekfront ook saam met sy vrou, Joëlle Chesselet, ’n skatkis van kosbare rolprente gemaak wat dié jaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees vertoon word. Theunis Engelbrecht vertel meer.
Van ’n geheimsinnige dorpie, Slangfontein in die Kalahari-agterland, tot ’n optrede van die Radio Kalahari Orkes by die Soweto Beach Party, die grootste vermaakgeleentheid op die sosiale kalender in Soweto…
Dit is wat fliekvlooie onder meer vanjaar op die Filmfees in die Road House Cinema in die Neelsie-sentrum kan beleef. En dis nie al nie: Daar is ook ’n gratis kortfliek van 13 minute, getiteld Poesboekies, oor die ou fotoboekies soos Die Grensvegter en Swart Luiperd. En in Pluck word die verhaal vertel van Nando’s se gewilde humoristiese reklameveldtogte.
Die aangrypende fliek Famous for not Being Famous oor die musikant, komponis en sanger James Phillips (ook bekend as Bernoldus Niemand) mag nie misgeloop word nie, en die dokumentêr Voëlvry: The Movie is ’n belangrike en boeiende boekstawing van een van die opwindendste en meer betekenisvolle hoofstukke in die Afrikaanse kultuurgeskiedenis – toe Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis hul buiging gemaak het, en hul landwye toer saam met Bernoldus Niemand groot opslae gemaak het en die handhawers van apartheid die horries gegee het.
Lloyd Ross is die man wat in verskeie hoedanighede as vervaardiger, regisseur, kinematograaf en redigeerder by al hierdie flieks betrokke was, tesame met sy vennoot en eggenote, Joëlle Chesselet. Lloyd is ook bekend vir die temaliedjie van die TV-reeks Vyfster, wat ’n groot treffer was in die 1980’s.
‘Vyfster’-geld koop Shifty se karavaan
Met die geld wat hy gemaak het uit Vyfster het Lloyd destyds ’n karavaan gekoop en dit as ’n opname-ateljee ingerig. Hy wou graag die groep Sankomota, wat in Lesotho gewoon het, se musiek opneem, maar Sankomota was weens apartheidswetgewing “ongewens” en kon nie in Suid-Afrika optree nie. Lloyd het toe die pad gevat Lesotho toe met sy karavaan en Sankomota se debuutalbum opgeneem.
Dit was die geboorte van die legendariese Shifty Records, wat Lloyd saam met sy vriend die komponis en musikant Warrick Sony begin het. Dit was Shifty wat die plate van Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band en Koos Kombuis uitgereik het toe al die ander kommersiële platemaatskappy te bang was om dit te doen weens die plofbare inhoud van die kunstenaars se werk.
Musiekrevolusie
Shifty het ook die grensverskuiwende werk van Oos-Randse rockgroepe soos Corporal Punishment en die Cherry Faced Lurchers opgeneem en sodoende ’n belangrike tydvak in die Suid-Afrikaanse musiekwêreld vir die nageslag verewig. Anti-apartheid-albums met die musiek van verskeie kunstenaar is ook opgeneem op A Naartjie in Our Sosatie en die anti-dienspligalbum Forces Favourites. En nog voor die dae van die Voëlvry-beweging het Shifty die revolusionêre album van die groep Koos uitgereik (nie Koos Kombuis nie, maar die groep wat bestaan het uit Marcel van Heerden, Gys de Villiers, Christo Boshoff, Neil Goedhals, Megan Kruskal, Velile Nxazonke en Kendell Geers.)
Daar is nog talle ander kunstenaars wie se werk danksy Shifty die lig gesien het: Tananas, Vusi Mahlasela, Jennifer Ferguson, Kalahari Surfers, Roger Lucey, Simba Morri, Rian Malan, Lesego Rampolokeng, Noise Khanyile en Winston’s Jive Mix-Up – en dis nie eens ’n volledige lys nie.
Dit is verblydend om te sien dat Lloyd Ross uiteindelik erkenning kry vir sy enorme bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiek- en rolprentbedryf.
Van Vusi se Mamelodi tot Kaaps-Maleise banjo’s
Maar terug na die Filmfees. Nog twee spesiale flieks deur Lloyd en Joëlle wat gesien kan word, is Friends and Opposites en The Silver Fez. In Friends and Opposites wys Vusi Mahlasela ons sy tuisdorp, Mamelodi, en stel ons voor aan sy vriende wat sy musiek help vorm het. Lloyd was die regisseur en produksieleier van Vusi se eerste vier albums – almal bakens in die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis. Met sy gevoelvolle musiek en buitengewone stem het Vusi intussen internasionale bekendheid en erkenning verwerf.
The Silver Fez vertel ’n fassinerende verhaal: dié van die huisverwer Kaatji Davids wat skaars ’n sent op sy naam gehad het, maar wel ’n ou banjo, en saam met vriende begin musiek maak het met die droom om vir Hadji Bucks, die bobaas van Kaaps-Maleise musiek, te onttroon.
In Die geheim van Slangfontein kan Ian Roberts, Rian Malan, Jack Parow, die Radio Kalahari Orkes en Valiant Swart gesien word. Die fliek handel oor ’n desperate man se soektog na Slangfontein in die Kalahari. Om die plek te vind, volg hy die sein van die spookradio Kalahari na die hart van ’n boeremusiek-utopia wat “honderd jaar agter die tye, maar steeds op die spoor” is.
Woordfees-erkenning vir waardevolle werk
Nog ’n fliek van Lloyd en Joëlle wat op die Filmfees te sien is, is Wild Landings: Namibia. Dit handel oor die vlieëniers Mike Blyth en James Pitman, wat bekend is vir hul waaghalsige avonture in vliegtuie wat hulle self ontwerp en bou. Twee keer het hulle reg om die wêreld gevlieg en albei kere was daar situasies wat hul lewe in gevaar gestel het. Hulle het ook ’n lugvaartbesigheid bestuur, maar toe die stres daarvan hulle begin onderkry, het hulle besluit dit is tyd vir ’n nuwe avontuur.
Lloyd en Joëlle gaan tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees in Japan wees om ’n toer van Joëlle se dogter, die gewilde sangeres Alice Phoebe Lou, by te woon. Hulle sal egter op 11 Oktober terug wees en saam met Rian Malan die vertonings van Die geheim van Slangfontein en The Silver Fez op dié dag bywoon.
Dit is verblydend om te sien dat Lloyd Ross uiteindelik erkenning kry vir sy enorme bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiek- en rolprentbedryf. Shifty Records se kosbare argief is onder meer in 2014 aan die Universiteit Stellenbosch se Africa Open-instituut vir musiek, navorsing en innovasie geskenk as deel van die Hidden Years-musiekargiefprojek.
Die albums wat Shifty Records opgeneem het, is beskikbaar op stromingsdienste en die musiek is ná al die jare steeds tydloos. Lloyd – én Warrick en Joëlle – verdien voorwaar ’n monument!
Lloyd Ross en Joëlle Chesselet se rolprente:
- Die geheim van Slangfontein: 11 OKT 18:00.
- Famous for not Being Famous: 3 OKT 11:00 | 9 OKT 15:30.
- Friends and Opposites: 3 OKT 14:30
- Pluck: 3 OKT 15:00 | 9 OKT 14:00
- Poesboekies: 5 OKT 19:30
- Soweto Beach Party: 4 OKT 15:00
- The Silver Fez: 9 OKT 16:30 | 11 OKT 19:30.
- Voëlvry: The Movie: 5 OKT 18:30 | 8 OKT 16:00.
- Wild Landings – Namibia: 10 OKT 13:30.
OB 14 | Road House Cinema in die Neelsie




