Die Woordfees 2023 skop af met ’n borrel
Die Toyota US Woordfees was in 2022 die eerste keer ’n Bolandse lentefees. Die program is egter noodgedwonge onder groot druk saamgestel nadat Covid-kapasiteitsbeperkings vir teaters en byeenkomste eers in Junie gelig is. Vanjaar vind die Woordfees nogmaals in Oktober plaas, maar dié keer is dit weer ’n kunstefees met ’n veel groter omvang oor nege dae versprei (7-15 Oktober) – nie sewe soos verlede jaar nie.
Die 2023-program, wat in verskeie opsigte aan die bruising in die feestema, Borrel, gestalte gee, is Donderdagaand 22 Junie by ’n spesiale borrel (soos die Nederlanders ’n partytjie noem) op die Muratie-wynlandgoed met Tracey Lange as seremoniemeester bekend gestel.
Die volledige program is by hierdie skakel beskikbaar waar ’n PDF van die volledige feesgids in Afrikaans en Engels afgelaai kan word. Die gratis gedrukte feesgidsboekie is ook nou by die Woordfeeskantoor in die Erfurthuis (Rynveldstr. 37, Stellenbosch) beskikbaar.
Kaartjies sal vanaf 7 Julie by Quicket te koop wees vir die om en by 640 unieke aanbiedings wat in meer as 50 venues in en om die Eikestad aangebied word.
EasyEquities SKRYWERSFEES
Die Woordfees het as ’n boekfees begin en die Skrywersfees lê steeds aan die hart van die program. Besoekers kan vanjaar kies van 54 boekgesprekke waaraan meer as 90 gerekende skrywers en verskeie ander meningsvormers deelneem.
Nuwe boeke van, onder andere, Barbara Masekela, Bibi Slippers, Eben Venter, Etienne van Heerden, Johann Rossouw, Jonny Steinberg, Marita van der Vyver, Pieter Odendaal, P.P. Fourie, Rudie van Rensburg, Sihle Khumalo en SJ Naudé kom onder die loep en ons lig ’n glas op die geliefde Weskusskrywer Sussie Kotzé se 90ste.
Daar word ook aan die hand van boeke kopstukke gesels oor die ekonomie, kookkuns, politiek en natuurlik, in die jaar van ’n kragkrisis en die Wêreldbeker, oor Eskom en rugby: Dawie Boonzaaier praat oor sy boek Die 30 beste Bokke, en een van die ses spesiale sogenaamde Boekklubkuiers draai om André de Ruyter se Truth to Power. Daar is ook Boekklubs oor Ella Blumenthal (102), wat Auschwitz oorleef en in Brakpan ’n lewe gemaak het, se outobiografie I Am Ella; oor die eerste Suid-Afrikaanse ensiklopedie van township-jazz (Sam Mathe se From Kippie to Kippies and Beyond) met musiek daarby; met Marlene van Niekerk oor ’n huldigingsbundel van haar werk; oor Wium van Zyl se nuwe vertaling van Kader Abolah se klassieke ’n 1 001 nagte, en oor die nuwe biografie van die tragies vermoorde skilder Walter Meyer, Impossible Skies, wat deur sy broer, Frans Meyer, geskryf is.
TONEEL
Daar is vanjaar ’n meer uitgebreide toneelaanbod met 37 aanbiedings, waarvan 13 produksies op die fees debuteer.
Onder die nuwe produksies tel Boesak, ’n eenmanstuk met Marlo Minnaar handel oor die veelbewoë lewe van die teoloog en anti-apartheidsaktivis Allan Boesak – van sy studentedae en sy werksaamhede in die bediening, tot sy egskeiding van sy eerste vrou en sy huwelik met Elna Botha, en die omstredenheid rondom sy bedrogsaak en uiteindelike tronkstraf. Mercy Kannemeyer het die teks geskryf en is ook die regisseur.
Die veelbekroonde Jaco Bouwer se keer terug na die teater met Die vegetariër – ’n vertaling en verhoogverwerking deur die Hertzog-wenner Willem Anker van Han Kang se Booker-wennerroman, The Vegetarian. Die drama gaan oor ’n vreemde ketting van gebeure nadat ’n getroude vrou ophou vleis eet. Die sterbelaaide rolverdeling bestaan uit Tinarie van Wyk Loots, Wilhelm van der Walt, Stian Bam en Rolanda Marais.
Die Sweedse dramaturg Niklas Rådström se Monstersdraai om die ware gebeure van 12 Februarie 1993 en verken ’n ysingwekkende vraag: Wat dryf ’n kind om ’n ander kind te vermoor? Tinarie van Wyk Loots voer die regie en sy het Rådström se teks vertaal saam met die geselskap wat bestaan uit Michele Burgers, Elton Landrew, Ntlanhla Kutu en René Cloete.
Alma Nel se drama Op ons met Dean Balie, Karli Heine en Ben Albertyn is ’n donker-komiese tragedie wat afspeel op ’n balkon waar twee gebroke siele ’n Oujaarsaand probeer deursien. Jan Burger is die regisseur.
Tuis, ek’s liefie is ’n bytende komedie oor Judy (Cintaine Schutte) wat haar werk verloor het en ontvlugting vind in die verre 50’s, wat sy nooit geken het nie. Janice Honeyman is die regisseur en Schutte word ondersteun deur Wessel Pretorius, Chrystal-Donna Roberts, Carlo Daniels, Amanda Strydom en Veronique Jephtas.
Philip Rademeyer se drama Goed wat wag om te gebeur is ’n ko-produksie van die Woordfees en Momentum Beleggings Aardklop. Wanneer Hendrik (Gideon Lombard) na sy verlate ouerhuis terugkeer, herrys die spoke van geweld, verwyte en verslawing. Lombard deel die verhoog met Antoinette Kellermann en Emma Kotze.
Pieter Odendaal se dramadebuut, Droomwerk, stel ’n groot vraag: Hoe versoen mens ’n apartheidsenator-oupa met ’n slawevoorouer in jou familiestamboom? Droomwerk is met die 2021 ATKV-Woordveertjie vir beste nuwe teks bekroon. Onder regie van Kanya Viljoen en Lwanda Sindaphi vind dié stuk – ’n ko-produksie van die NAF (Nasionale Kunstefees) en die Woordfees – op die verhoog gestalte met Jill Levenberg, Ben Albertyn,
Johann Nel, Tyrish Mili en Johann Vermaak in die rolverdeling.
Daar is ook ’n hele ry bestaande hoog aangeskrewe produksies wat nog ’n speelvak by die Woordfees het. Dit sluit in: Die moeder, Master Class, Mirakel, Ver in die wêreld Kittie, Droomkraan-kronieke, Braam en die engel, Midsummer Night’s Dream en Hold Still.
FRINGE- EN KINDERFEES
Die program sluit weer soos in 2020 ’n Fringe- en Kinderfees in. Daar is 13 stukke, waarvan vier debute is, op die Fringe-program waar jong kunstenaars kanse kan waag en feesgangers opwindende, ontluikende talent kan ontdek.
Die Kinderfees bestaan uit agt aanbiedings wat groot, leersame vermaak en plesier vir die kleinspan en hul ouers belowe.
Daar is vier uitgesoekte aanbiedings op die DANS-program, wat nog ’n geleentheid bied om die bekroonde Karatara te sien.
Van die land se grootste grapmakers bring vars vertonings na die SAVANNA KOMEDIE-program: Alan Committie, ’n nuwe Francois Toerien Show, Île met Sophie Joans, Namaste Bae – Blessings and Kombucha met Rob van Vuuren, Rambunctious met Nik Rabinowitz, en ’n stand-up-vertoning deur Shimmy Isaacs.
KLASSIEKE MUSIEK
Daar is 23 konserte om van te kies wat ’n ryke verskeidenheid bied ten opsigte van styl, aanslag en uitgevoerde werke: van die wêreldberoemde, altyd inspirerende Universiteitskoor Stellenbosch en ’n bruisende viering van Rachmaninoff se 150ste verjaardag met Nina Schumann, Megan-Geoffrey Prins en ’n orkes onder leiding van die opwindende jong dirigent Jacobus de Jager, tot Classical Calabash, waarin jong komponiste met ’n unieke vermenging van inheemse Afrika-instrumente, sang en klassiekemusiekkonsepte bekoor.
In ’n borreljaar is die groot B’s – Bach en Beethoven – natuurlik op die program. Daar’s die gevierde Amici-kwartet se Beethoven String Quartets: The Beginning and the Enden Johann Sebastian Bach: The Flute Sonatas met Liesl Stoltz (fluit), David Pinoit
(tjello) en Erik Dippenaar (klavesimbel).
Ook op die klassieke spyskaart is Between Friends met die veelsydige Gareth Lubbe (viool, altviool, stem) en Luis Magalhães (klavier); Cape Choral Academy: Bolandse Misse o.l.v. XanderKritzinger met die Kaapse Barokorkes o.l.v. ErikDippenaar; die Charl du Plessis-trio wat die Peer Gynt Suite uitvoer met ’n bietjie ABBA en Bach daarby; Songs of Shakespeare met uittreksels uit verskeie operas gesing deur Brittany Smith, Nobulumko Mngxekeza, Alida Scheepers (soprane), Lukhanyo Moyake (tenoor), Conroy Scott (bariton) en José Dias (klavier), asook The Dante String Quartet: Points of Origin metdie Britse Dante-kwartet wat uit twee Britte en twee Suid-Afrikaners bestaan en al deur die BBC Music Magazine en Royal Philharmonic Society vereer is.
En ’n ekstra stukkie goeie nuus: Pensioenarisse kry R15 afslag op Klassieke Musiek-kaartjies wat vooraf gekoop word.
DIE TOYOTA MUSIEKFEES
Met 46 aanbiedings – van stadiongrootte tot klein en intiem, kry jy alles van piekniekkonserte by die Van der Stel-sportgronde tot kabaret, uitgelate optredes met jazz, rock, rumba, hip-hip en pop.
Tussen die vier groot Van der Stel-piekniekkonserte is daar ’n bekostigbare kaartjie vir elke kontemporêre smaak: Nagskof Vol. 1 (met Fokofpolisiekar, Desmond and the Tutus, Majozi e.a.), Spoegwolf, Uit volle Bosch (met Van Der Aven, Zaan Sonnekus, Gian Groen, Jan Blohm en Die Heuwels Fantasties) en Jol & Jive – WOW word 20! (met Tribal Echo, Temple Boys, Early B, Mango Groove en Dr Victor & The Rasta Rebels e.a.).
Twee treffers van verlede jaar se Musiekindaba kom na die Oude Libertas-amfiteater: Rock & Rumba (met Arno Carstens, Sima Mashazi en ’n vuurwarm orkes) en Hip-hop, bop & pop (met Jack Parow, Early B, Kurt Darren, Loki Rothman, The Blake Hellaby Quartet en Lea Venga). Ook in die Oude Libertas is ’n spesiale konsert vir jazz-liefhebbers – Effervescence: Xamisa, Ikapa, Kaapstad (met Leslie Kleinsmith, BabalwaMentjies, Alvin Dyers, Jason“Hakiesdraad” Hartman Hartman en die US Jazz Band o.l.v. Felicia Lesch)
Valiant Swart en Neil Sandilands kom stel hul nuwe albums in die intieme atmosfeer van die Daisy Jones Bar bekend, waar ook Anton Goosen 77 nie uit nie vier, en die volgende kunstenaars, onder andere, optree: Augusta Zietsman, Die Kaappunters (met Riku & Jackie Lätti, Churchil Naudé e.a.), Kaapse djez, goema en beyond (met wonderlike jazz-musikante, o.l.v. Ramon Alexander). Dis ook hier waar die Wordplay-sessies (met Xabiso Vili, Toast Coetzer, Jerome Rex, Jaco van der Merwe e.a.) plaasvind – ’n lekker mal speletjiesprogram waarin uiteenlopende digters en musikante voor ’n gehoor saamspan en improviseer.
En dan is daar nog kabaret en luisterliedjies met, onder andere, Amanda Strydom, André Schwartz, Elsabé Zietsman, Koos van der Merwe, Luna Paige, Marcia Moon, Nic de Jager, Niël Rademan,Petronel Baard,Tarryn Lamb en ook die innoverende Lipkap se Tongklap: ’n Rymkletskabaretmet Frazer Barry, Jason Hartman, Kerishnie Pheiffer, Deniel Barry, Earl Witbooi e.a. Frieda van den Heever bied weer Skoonveld aan, wat in 2022 die Woordtrofee vir Beste kontemporêre musiekproduksie (in die solo-kategorie) gewen het.
LEEFSTYL
Daar is meer as 50 aanbiedings op die Leefstyl-program wat bestaan uit ’n wye verskeidenheid van lekker en interessante goed om te verken, eet, drink, leer en ervaar. Jy kan gaan stap, draf, joga of met ’n e-fiets ry, tuine kyk, kookdemonstrasies bywoon, argitektuurtoere meemaak en alles proe en geniet wat die wynlande en Stellenbosch se koskultuur te bied het.
Die amptelike opening van die 2023-fees op 6 Oktober vind aan die gesellige Langtafel onder die eike, tussen die pragtige ou geboue van Ryneveldstraat, plaas. Vanjaar verskaf Bertus Basson en die topdrie-spanne van kykNET se Kokkedoor vuur en vlam inspirasie vir die aand se spesiale spyskaart.
Stellenbosch-wynroetes bied weer ’n reeks gewilde geleenthede aan:
Muratie: Wyn, Kos en Erfenis met dr. Rijk Melck; Borrels en ontbyt saam met Minki (van der Westhuizen) by Lanzerac; ’n Rugbywêreldbeker-braai met Toks van der Linde, kenners en oud-spelers byL’Avenir; Stellenbosch: Erfenis en legendester viering van Stellenbosch-wynroetes se 50-jarige bestaan met stories, kos en wyn in die Spier-herehuis; Storiestap met Visit Stellenbosch – ’n verkenning van die pragtige Ou Bethlehem-roete deur die Banhoek-natuurreservaat in die geselskap van ’n bobaasstorieverteller en die Woordfees-straatsoirée en Woordfees-borrelfees –twee straatfeeste met kosstalletjies, musiek en wyn in Ryneveldstraat. Die Woordfees-wynskool vind ook weer plaas. Drie klasse (Bubbly 101, Chenin Blanc 101 en Pinotage 101)word aangebied deur wynmakers, wynpersoonlikhede en ’n komediant.
Gholf en die kunste vat hande vir ’n goeie doel by die Devonvale-gholfklub met die tweede Toyota US Woordfees Gholfdag in vennootskap met die Cheetahs Rugby
Trust. Feesgangers kan ’n vierbal bespreek en aansluit by sportpersoonlikhede, bekende skrywers en kunstenaars om fondse in te samel vir die werwing, ontwikkeling en behoud van talentvolle spelers én die voorsiening van werk- en ontwikkelingsgeleenthede vir
kunstenaars.
VISUELE KUNS
Die Visuele Kuns-program bied vanjaar eweneens ’n veel groter verskeidenheid.
Die feeskunstenaar, wat met ’n groot uitstalling gehuldig word, is Wilma Cruise. Sy verken graag die verbintenis tussen mens en dier in haar werk. Van haar groot, gesogte beelde in vuurklei en brons sal saam met ’n keur van haar skilderye, tekeninge en klank-installasies te sien wees.
Hierdie uitstalling in die US Museum is gratis en so ook die ander drie uitstallings wat daar gehuisves word:
Boerplek van vrees – die omstrede Anton Kannemeyer (Bitterkomix) se eerste solo-uitstalling in Suid-Afrika sedert 2015. Die uitgestalde werke tree in gesprek met cancel culture, die woke-mentaliteit en die humorloosheid en gebrek aan self-ironie in die ideologieë wat tans aan jongmense opgedring word.
Fanfare, onder kuratorskap van Marinda du Toit, bestaan uit 14 lewensgroot realistiese en fantasiediere van metaal, op vlotte gemonteer, wat daagliks ’n roete deur die strate van Stellenbosch na die US Museum volg, waar hulle uitgestal word. Die diere is onder leiding van die e-Bosch Erfenisprojek en bekwame sweisers van metaalplate, herwonne skrootmateriaal en optelgoed gemaak deur verteenwoordigers van Stellenbosch Sentraal en haar 13 buurdorpe: Cloetesville, Devonvallei, Idasvallei, Jamestown, Kayamandi, Klapmuts, Kylemore, Lanquedoc, Pniël, Raithby, Vlottenburg, Wemmershoek en plaasgemeenskappe.
Karoo Kitaar Blues – Die fotograaf John Hogg en skilder John Kramer het 20 jaar gelede die Karoo Kittar Blues-konserte afgeneem wat David Kramer saam met unieke volksmusikante
soos Helena Nuwegeld, Hannes Coetzee, Tokas Lodewyk, Koos Lof en Siena Mouers aangebied het. Die meeste van hierdie kunstenaars is intussen oorlede en die foto’s, wat nog
nooit voorheen ten toon gestel is nie, vertel roerende verhale van ’n ryk, miskende tradisie;
van mense wat nooit van roem durf droom het nie, maar leer sing het om die koue en donkerte te verdryf.
Die Woordfees het verlede jaar die eerste keer in samewerking met Strauss & Co. ’n veiling aangebied wat met ’n uitstalling van die werke wat te koop is, gepaard gegaan het. Vanjaar word hierdie suksesverhaal herhaal. Daar sal weer uitgestalde gehaltewerke te koop wees wat iets vir elke begroting bied – van beginnerversamelaars met beperkte fondse tot duur, gesogte stukke vir kunskenners met diep sakke.
Ateljeebesoeke is ’n nuwe inisiatief wat feesgangers toegang gee tot Stellenbosse kunstenaars se skeppende ruimtes. Op vasgestelde tye is deelnemende kunstenaars in hulle ateljee beskikbaar. Jy kan ’n kaartjie vir ’n individuele ateljeebesoek koop en/of met die feesbussie ’n kunsroete volg en verskeie ateljees ná mekaar besoek. Die 18 kunstenaars wat hulle ateljees oopmaak vir besoekers is Jacques Buys, Johan Swart, Keith Dietrich & Heléne van Aswegen, Lunga Kama, Marianne Burger, Marié Stander, Maritza Breitenbach, Marlene von Dürckheim, Paddy Bouma, Paula van Coller-Louw, Rose Namubiru Kirumira, Rudolf Gouws, Sharlé Matthews, Stephen Rautenbach, Strijdom van der Merwe, Trude Gunther en Vernon Swart.
Jy kan jou alteljeebesoeke beplan deur eers die Woordfees Atelier-uitstalling te besoek – ’n
oorsigtelike uitstalling van deelnemende kunstenaars in die IS Art-galery.
NUUT EN VERNIET OF GOEDKOOP
Die ekonomie druk oral en dit was dus vir die feesbestuur ’n prioriteit om feesgangers vanjaar toegang tot soveel gehalte-aanbiedings moontlik te gee.
Byna al die uitstallings op die Visuele Kuns-program is verniet – dis net die Ateljeebesoeke wat iets kos indien jy die pendeldiens gebruik.
Danksy Toyota is die Parkeer en Pendeldiens billik en bied dit ’n oplossing vir die parkeerplekskaarste in Stellenbosch. Dit kos R15 per rit; R50 per dag en R150 vir die hele fees. Bussies pendel vanaf die feeskern en die parkeerterreine, Hoërskool Stellenbosch en Kochstraat-grasperk, tussen alle feesvenues waar aanbiedings geskeduleer is.
Daar is 52 gesprekke op die DISKOERS-program en 11 besprekings in die LANDBOU-gespreksreeks met kenners in verskeie velde wat inspirasie, nuwe insigte en saamgeselskans gee – en dis alles mahala.
Die WOORDFEES FILMFEES (moontlik gemaak deur die Open Window) bars vanjaar uit sy nate met oor die 60 films uit meer as 20 lande wat gratis vertoon word. Onder hierdie films is al die kortfilms en kort dokumentêre wat vanjaar by die 2023 kykNET Silwerskermfees debuteer.
Ook op die program is agt vollengtespeelfilms, wat spesiale voorskoue insluit van die komedie Hans steek die Rubicon oor en die romkom Die tragiese saak van Pamina Vermaak – twee nuwe flieks wat op twee gewilde boeke deur onderskeidelik Rudie van Rensburg (Hans) en Annie Klopper (Pamina) gegrond is.
Feesgangers sal ook die eerste geleentheid kry om die première van ’n nuwe dokumentêr te sien oor die lewe en werk van Gert Vlok Nel, My broer, Gertjie. Die kameraspan volg Elias, Gert se broer, op ’n konserttoer na Nederland, waar Gert ’n groot ster is. Dis die eerste keer dat Elias iewers heen vlieg.
Vir die vollengtespeelfilms en die dokkie oor Gert Vlok Nel word wel kaartjies verkoop, maar as jy vooraf koop, kos dit net tussen R60 en R80 vir jou sitplek.
Die groot piekniek-buitelugkonserte by die Van der Stel-sportgronde is baie bekostigbaar met kaartjiepryse wat tussen R60 en R150 lê.
Daar sal vanjaar ’n verskeidenheid afslagpakkette beskikbaar wees met verlaagde pryse vir studente en pensioenarisse.
Die Bly Vrydag-inisiatief sal ook weer aangebied word wat goedkoop kaartjies na ’n seleksie van aanbiedings verkoop om die fees toeganklik te maak vir soveel mense as moontlik wat in en om Stellenbosch woon.
Daar is ’n paar nuwe skuiwe vanjaar wat die terugkeer na ou vertroude plekke behels: die Plataan-kuierkafee, wat verlede jaar voor die Khaya was, skuif terug na die plek waar die Plataan was – in die vierkant agter die US Museum vanwaar RSG ook verskeie uitsendings en interessante gesprekke regstreeks sal aanbied. Voor die Khaya word wel steeds gesellig gekuier. Dis hier waar die Netwerk24-feeskafee weer te vinde is. Radio Helderberg sal vanjaar van hier met bekendes onderhoude voer en regstreeks uitsaai.
Ook die EasyEquities Boektent en die fees se boekwinkel beweeg terug na langs die vierkant agter die US Museum.
Vir verdere navrae, stuur e-pos na woordfeesbemarking@sun.ac.za.