RESENSIE

Die stom getuies van Monsters

deur Marchelle van Zyl
Produksie: Monsters
Foto’s: Nardus Engelbrecht

“Dit hét al gebeur. Dit gebeur, hier. Nou. Dit gaan wéér gebeur.”

Vier mense op die verhoog. ’n Gruwelike tragedie wat voor jou afspeel. ’n Spreekkoor wat met die gehoor praat. 

Wanneer jy by die teater instap, ken jy reeds die storie wat voor jou gaan afspeel: ’n Seuntjie genaamd James Bulgar is deur twee seuntjies vermoor. Jon Venables en Robert Thompson het hom doodgemaak. Toe dit in 1993 gebeur het, was die hele wêreld met afgryse gevul. Hoe kon dit? Hoe is dit moontlik dat niemand iets opgemerk het nie. En hoe is dit moontlik dat dié wat wel iets opgemerk het, niks gedoen het nie. Daar was 17 CCTV-kameras wat hulle gesien het. Die videomateriaal wat ons almal herken, wys hoe James hand aan hand by die winkelsentrum saam met die twee seuns uitstap. Daar was 38 ooggetuies wat Jon en Robert saam met James sien stap het. 

Niemand het iets gedoen nie. 

“Hoekom is julle hier?” vra die akteurs aan die gehoor. Wat noop jou om ’n kaartjie te koop om ’n toneelstuk te kom kyk oor so ’n makabere onderwerp? Dis nie ligte kykstof nie. Inteendeel. 

Wat of wie het die kinders gedryf tot hierdie waansinnige oomblik? Hulle was net 10 jaar oud. James was maar twee jaar oud. 

Monsters is nie net ’n tragiese moordverhaal nie. Dit gaan oor ons as individue en gemeenskappe en generasies se aandadigheid. Wie moet verantwoordelikheid neem vir die aaklige goed wat in ons gemeenskappe gebeur? Dit kan tog nie ek wees nie. Ek is ’n goeie mens, hoor ek jou sê. 

Maar hoe laat ons as sogenaamde goeie mense dit toe dat monsters optree, oortree en aanhou leef en teer sonder dat ons intree. En wanneer ons nie intree nie, wie is dan die monster?

Kom ons wees eerlik – hierdie is nie ’n storie wat maklik is om te vertel nie, en dis nie ’n storie wat enige mens in die gehoor wil hoor of sien nie. Maar hier is ons. Wat nou? 

“Dit is eintlik ’n sosiale eksperiment”, sê Tinarie van Wyk Loots, die regisseur. Die vier akteurs trek voor elke opvoering ’n lootjie om te sien wie speel watter rol, vertel Tinarie ná Maandag se produksie. Binne die produksie wissel die akteurs rolle. Elkeen kry ’n “beurt” om die slagoffer, die ouers, die ondervraer, die oortreder te speel. “Die gehoor moet nie ’n karakter met een van die akteurs assosieer nie”, sê Tinarie. Die slagoffer kan dus enigeen wees. “Dit kan jou kind wees. Dit kan my kind wees.” Die moordenaar kan dus enige iemand wees. “Dit kan jou kind wees. Dit kan my kind wees.” Wat is meer skrikwekkend?

Die merkwaardige ensemble bestaan uit Michele Burgers, Elton Landrew, Ntlanhla Kutu en René Cloete. Die eksperiment met verskillende akteurs wat elke keer ’n ander rol speel, bring ’n onrustige onvastheid na die verhoog. Niemand is gemaklik in sy rol nie, en dis Tinarie se doel. Die meeste van die getuienis en ondervraging word gelees. Dis die transkripsies van die gebeure, van die getuienisse. “Dit sou pervers wees om die storie te probeer act,” verduidelik Tinarie. Die ensemble is uitstekend gekies en elkeen bring iets unieks tot die verhoog. Jaco Bouwer se beligtingsontwerp en Pierre-Henri Wicomb se musiek skep ’n ongemaklike ruimte wat ons uitdaag en konfronteer. 

Maar dis nie net die akteurs en tegnici wat deel is van die produksie nie. Die gehoor is ook deel van die produksie. Die huisligte is nooit heeltemal af nie. Die akteurs kan ons sien. Hulle praat met ons en jy word aandadig, jy word getuie, jy word tot verantwoording geroep. 

Daar is selfs deelname uit die gehoor. 

Wanneer jy dit gaan kyk, en iemand vra jou om deel te wees van die vertoning, oorweeg dit sterk. Wees dapper genoeg om nie net ’n getuie te wees nie, maar om actually iets te doen. Want geen van die 38 mense wat James gesien het, het iets gedoen nie. Ons kyk net, maar doen niks.  

In Maandag se vertoning het twee gehoorlede deelgeneem. Dit was braaf. Dit was een van die roerendste oomblikke in die stuk. Dit was aangrypend en hartverskeurend. 

In ’n volgende produksie wou niemand in die gehoor deelneem nie. Volgens mense wat dit bygewoon het, het hulle gevolglik ’n heel ander teaterervaring gehad.

Tydens hierdie jaar se Toyota US Woordfees sien ons vele tragiese verhale op die verhoë voor ons uitspeel. Daar is monsters oral om ons, maar hoe vertel ons daardie verhale sonder om die gehoor net te bombardeer met aaklige feite. ’n Tipe horror porn. Teater moet ons konfronteer en roep tot aksie. 

Monsters doen dit. Dis nie ’n gemaklike ervaring nie. 

Die teks is oorspronklik geskryf deur ’n Sweed Niklas Rådström. In ’n onderhoud met The Guardian sê hy:
“I don’t believe in evil as a metaphysical force,” sê Rådström. “I believe we are all responsible for our actions. But I do believe that there are evil situations in which we all find ourselves, and that sometimes in those situations, people lose the civilised part of themselves. When suffering happens, we often want to look away. But I wanted to use theatre to talk about the things we find unbearable and hard to understand: the fact that our child may be murdered by another child; that our child may be a murderer.”

Ons stap uit die teater. Ek en my vriende staan in ’n kringetjie en ek is ewe skielik lus vir ’n sigaret nadat ek kamstig al lankal ophou rook het. Ons praat. Ons dink. Ons wonder. 

Oorkant die pad speel kinders. Ons kyk nou anders na hulle. Met meer waaksame oë. Is hulle orraait? Sal ons hulle kan beskerm? wonder ons. Ons kyk anders. Tinarie en haar ensemble het hulle werk gedoen. 

Een van my vriende sê oorbluf: “ ’n Aaklige eksperiment was nog nooit só merkwaardig nie.”

Facebook
Twitter
LinkedIn