Vyf-en-twintig verhale is gekies vir publikasie in die elfde kortverhaalbundel van die Toyota Stellenbosch Woordfees, Dis hoog tyd.
Dit sluit in laasjaar se wenner van die fees se kortverhaalkompetisie, Emile Joubert en bekroonde digters en romansiers soos Lynthia Julius (Kinderlê) en Gaireyah Fredericks (Een voet innie kabr).
Die wenner ontvang R30 000 met die komplimente van EasyEquities. Verder kry elke skrywer wat in die bundel opgeneem word R5 000, asook R500 om in ’n EasyEquities-beleggingsrekening te spaar. EasyEquities is ’n maklike, veilige en vinnige manier om in ’n verskeidenheid van opsies te belê – beide in Suid-Afrika en die buiteland. Lees hier meer oor dié beleggingsplatform.
“Baie geluk aan al die skrywers wat in die jaar se bundel opgeneem word. Soos altyd sien die EasyEquities-gemeenskap van meer as 1.3 miljoen beleggers verskriklik uit om julle stories te lees,” sê Carel Nolte, hoofbemagtigingsbeampte van EasyEquities.
Vanjaar se kompetisie het 488 inskrywings gelok; dit is die meeste sedert die kompetisie in 2016 begin is.
“Nou al vir elf jaar vind die keurpaneel telkens ’n fassinerende verskeidenheid verhale wat vir die kompetisie voorgelê word. In heelwat van dié jare het verskeie skrywers dieselfde tema gekies, en sonder uitsondering was dit ’n tema wat in daardie tyd op almal se lippe was. Dink byvoorbeeld aan #MeToo, en natuurlik Covid. Ons sal 2026 onthou as die jaar van KI, en lesers kan uitkyk vir drie opwindende futuristiese verhale wat die bundel gehaal het. Die res van die stories staan glad nie terug nie – baie geluk aan al die skrywers!” sê Suzette Myburgh, sameroeper van die keurpaneel.

Die bundeltitel is altyd dieselfde as die Toyota Stellenbosch Woordfees se tema vir die jaar. Vanjaar is dit “Dis hoog tyd” – aanmoediging om jouself die tyd te gun vir ’n betekenisvolle ervaring.
Die bundel word by ’n geleentheid tydens vanjaar se fees bekend gestel. Die wenner van die kompetisie word tydens die geleentheid aangekondig. Die 26ste Toyota Stellenbosch Woordfees vind van 3 tot 11 Oktober in die Eikestad plaas. Vind die program op woordfees.co.za en bespreek kaartjies aanlyn by Quicket.
Die skrywers wat in die 2026-kortverhaalbundel van die Toyota Stellenbosch Woordfees opgeneem word, in alfabetiese volgorde, is:
- Anita Kritzinger
- Anna-Bet Stemmet
- Cobus Kruger
- Corine Raath
- Elme Ravenscroft
- Elzan Webster
- Emile Joubert
- Gaireyah Fredericks
- Helena Opperman
- Ilse Schoonwinkel Pauw
- Janina Theron
- Janine Opperman
- Johann Smith
- Karin Sennett
- Keith Oliver Lewis
- Ling Sheperd
- Lynthia Julius
- Marquen Carstens
- Michèle Meyer
- Morné Malan
- Paula Fourie
- Rina Bester
- Ryno Eksteen
- Sandy Schoeman
- Werner Rossouw
Lees hier meer oor dié kompetisie.









